Oupa Zombie
101 pages
Afrikaans

Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage

Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement

Je m'inscris

Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement

Je m'inscris
Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne
En savoir plus
101 pages
Afrikaans

Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage

Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne
En savoir plus

Description

Alex se oupa het grys hare, dra valstande en kyk graag na reis-programme op TV. Maar op ’n dag raak hy skielik mal oor … BREIIINNNSSS! Dit is duidelik dat Oupa besig is om in ’n zombie te verander. As Alex hom van dr. Zuurman en die zombiepolisie wil red, gaan hy ’n paar briljante planne, goeie vriende en hope broccoli nodig hê. En miskien kan hulle op die koop toe ook hulle droom bewaarheid om die Zambia en Egipte te siene kry!

Met Jacobs se sonderlinge kombinasie van humor en die deernisvolle uitbeelding van gesins- en ander verhoudinge, is dit nie moeilik om te verstaan waarom hy die topverkoper-kinderboekskrywer in Suid-Afrika is nie.


Sujets

Informations

Publié par
Date de parution 16 mars 2020
Nombre de lectures 0
EAN13 9781776250059
Langue Afrikaans
Poids de l'ouvrage 3 Mo

Informations légales : prix de location à la page 0,0450€. Cette information est donnée uniquement à titre indicatif conformément à la législation en vigueur.

Extrait

Pan Macmillan Kinderboeke
www.panmacmillan.co.za






Hoofstuk 1
Drie asemrowende groot leuens
Hierdie storie begin met ’n klein outjie en drie asemrowende groot leuens.
Alexander Frederikus Kritzinger het ’n baie lang naam, maar hy is die kortste seun in sy klas. Gelukkig noem almal hom Alex, want as mense hom Alexander Frederikus Kritzinger * genoem het, sou hierdie storie baie lank geneem het om te vertel.
* Probeer dit vinnig drie keer in ’n ry sê sonder om asem te haal: Alexander Frederikus Kritzinger. Alexander Frederikus Kritzinger. Alexander Frederikus Kritz – ugh! Sien, dit klink of jy ’n marathon gehardloop het!

Alex het muisvaal hare wat soggens weier om plat te lê. Hy het groen oë en hy dra ’n bril. As jy in ’n winkelsentrum by hom verbystap, sal jy dalk nie eens twee keer na hom kyk nie.

Om die waarheid te sê, die meeste kinders in sy klas kyk ook nie juis twee keer na hom nie.
Alex is al amper ’n jaar lank in sy nuwe skool, maar hy het nog net twee maats gemaak – ’n tweeling genaamd Jamie en Amy. Wel, om eerlik te wees, Alex is ook nie regtig beste, BESTE vriende met Jamie en Amy nie. Hulle het byvoorbeeld nog nooit by hom kom kuier of hom genooi om by hulle te gaan kuier nie.
Maar ... • Hulle eet darem party pouses saam. • Hulle hou daarvan as Alex vir hulle interessante feite vertel – iets waarmee hy nogal goed is, danksy al die reisprogramme wat hy en Oupa saam op TV kyk * .
* Interessante feit: Die inwoners van Switserland eet elkeen gemiddeld 8 kilogram sjokolade per jaar.
• En as hulle spanne moet kies in die sportperiode, kies Jamie en Amy partykeer vir Alex, al is hy nie juis goed met sokker of krieket of raakrugby nie.
“Jamie en Amy, het julle nou genoeg gesels? Kan ons asseblief met die les begin?” vra juffrou Williams.
Juffrou Williams hou baie daarvan om sulke vrae te vra. Die soort vrae waarop jy nie regtig veronderstel is om enige iets te antwoord nie. En wanneer sy sulke vrae vra, loer sy kwaai bo-oor haar haakneus vir jou, asof sy wil kyk of jy dit gaan wáág om te probeer antwoord.
“Reg, ek is seker julle kan nie wag om met julle mondeling te begin nie, of hoe?”
’n Paar kinders kreun gedemp.
Juffrou Williams se oë blits dreigend.
Alex is nie een van die kinders wat kreun nie. Hy is te bang vir juffrou Williams se kwaai, krysende stem. Daarom hou hy sy kreun binne. Die kreun gaan kruip op die krop van sy maag weg en begin benoud fluister: Asseblief, moenie dat sy my vra om eerste te praat nie!
Alex hou nie van mondeling nie. As hy voor die hele klas moet praat, begin sy hande bewe, sy keel trek toe en sy stem klink pieperig en hees.
Maar hy sien VERAL nie uit na vandag se mondeling nie ...
“Tracey, jy sal seker nie omgee om eerste te praat nie?” vra juffrou Williams.
Dankie tog!
Alex blaas sy asem verlig uit.
Tracey staan op en stap met ’n breë glimlag vorentoe. Sy is glad nie skaam nie. Sy gooi haar lang hare oor haar skouer en begin praat.
“My fantastiese vakansie,” begin sy met die onderwerp van vandag se mondeling. “Dié vakansie was ons gesin Kaap toe. Ons het met die kabelkarretjie tot op Tafelberg gery, ons het met ’n boot Robbeneiland toe gevaar, en ons het ’n konsert van Dezi Bell gaan kyk. Sy was ON.GE.LOOF.LIK! En raai wat – sy het haar handtekening vir my gegee!”

Tracey wys vir haar klasmaats ’n foto waar sy saam met die beroemde popsangeres staan.
Die hele klas “oeee” en “aaa”.
Toe Tracey klaar is met haar mondeling, klap almal hande.
Daarna is dit Daniel se beurt. Hy was saam met sy ouma en oupa in Frankryk.
Hulle het lang Franse brode geëet, kastele en kunsmuseums gesien, en hulle was tot heel bo in die Eiffeltoring.
Lesedi het saam met haar gesin in die Krugerwildtuin gaan kampeer. Sy het die Groot Vyf in lewende lywe gesien, en haar kleinboetie is amper deur ’n krokodil opgevreet. Dit klink nogal vir Alex of Lesedi effens spyt is dat die krokodil met ’n leë maag moes gaan slaap.

Mandla het by sy pa in Durban gaan kuier. Hulle het saam krieket gaan kyk en hulle was by die akwarium, waar hulle gesien het hoe die haaie gevoer word.
Emma het op haar tannie se llama-plaas gaan kuier en ’n llama gemelk. Sy gebruik ’n emmer en ’n ballon om vir die klas te demonstreer hoe dit gedoen word. Sy wys ook vir die klas die bloukol op haar arm waar die llama haar gebyt het. Alex kan nie help om te dink dit was haar verdiende loon nie.
Amy is volgende aan die beurt.
“Ek en Jamie doen sommer saam mondeling, Juffrou,” sê sy. “Ons het tog presies dieselfde dinge die vakansie gedoen.”
Voor juffrou Williams iets kan sê, begin hulle praat.
“Ons het die vakansie die hele land platgery,” sê Amy.
“Op motorfietse,” voeg Jamie by. Hy hou ’n motorfietshelm trots in die lug. “Ons ma en pa het elkeen ’n motorfiets gekoop, en ons het heelpad agterop gery. Ek en Amy het elkeen ons eie valhelm gekry.”
“Coooool!” sug die ander kinders.
“Ons het vyf provinsies gesien,” vertel Amy.
“En deur drie-en-dertig dorpe gery,” spog Jamie.
Waar hy heel agter in die klas sit, kners Alex op sy tande. Dit voel of iets in sy bors gloei ... Hy probeer daarteen stry ... Hy probeer regtig kliphard daarteen baklei ... Maar dit voel asof groen vlamme diep agter in sy keel skroei, en dreig om sy asem weg te slaan ...
Alex dink aan sý vakansie.
Elke dag presies dieselfde. ’n Eindelose string grys, vervelige dae by die huis.
Graanvlokkies eet vir ontbyt, toebroodjies vir middagete en mikrogolfetes vir aandete, terwyl sy klasmaats samoesas, lang Franse brode en llamakaas geëet het.

Reisprogramme kyk saam met Oupa op die rusbank, terwyl sy klasmaats die wêreld met vliegtuie, bote en motorfietse verken het.
Alleen op sy bed lê en boeke lees, terwyl sy klasmaats by popkonserte en krieketwedstryde was.
Alex kan dit nie help nie.
Hy is jaloers.
“Alex, slaap jy?” * vra juffrou Williams.
* In die geskiedenis van dom vrae, behoort “Slaap jy?” die prys te wen as die Heel Domste Vraag in die Ganse Grote Heelal.

Alex wip soos hy skrik.
“As dit nie te veel moeite is nie, sal jy ons asseblief kom vertel van jou vakansie?”
Alex staan op en stap sleepvoet tot voor in die klaskamer.
Hy sluk. Sy hart hamer in sy keel terwyl sy oë oor sy klasmaats gly.
Tracey wat die vakansie ’n popsangeres ontmoet het. Daniel wat ’n selfie saam met die Mona Lisa geneem het. Lesedi wat die vakansie elke aand leeus hoor brul het. Mandla wat sy gunsteling-krieketspan in aksie gesien het. Emma wat geleer het om ’n llama te ... oukei, wag, hy is nie regtig jaloers op Emma nie. Jamie en Amy wat saam met hulle ma en pa op motorfietse die land platgery het.
Die groen vlamme van jaloesie brand nog warmer in sy bors.
Alex stoot sy bril op, trek sy asem diep in ... en blaas dit stadig uit.
“Ek en my oupa was die vakansie by die wêreld se heel grootste waterval,” sê hy. “Die Victoria-waterval. Die mense wat daar bly, noem dit ‘Die Rook wat Donder’.”
Sy stem klink verbasend hard en helder.
Die ander kinders lyk beïndruk. Die wêreld se grootste waterval is selfs beter as die Eiffeltoring of om met die kabelkar tot op Tafelberg te ry.
Dit voel of die groen vlamme effens bedaar.
Dit spoor Alex aan.
“En daarna het ons ’n draai in Egipte ook gemaak,” sê hy. “Ons het mummies gesien en op kamele gery ...”
’n Paar kinders ril. Mummies is mos baie grilleriger as haaie en krokodille!
“Komaan, regtig, Alex?” snork Mandla. “Mummies?”
Alex knik. Hy voel skielik glad nie meer so skaam soos gewoonlik nie. “Het julle geweet die Egiptenare het mummies van katte ook gemaak? In een begraafplaas is meer as HONDERDDUISEND katmummies gekry!”
Nou ril almal.
Dit gee Alex nog meer selfvertroue.
“En ons het in ’n warmlugballon gery! Dit was fantasties! Het julle geweet die heel eerste passasiers wat in ’n warmlugballon gery het, was ’n skaap, ’n eend en ’n hoenderhaan?”
Almal lyk lekker jaloers. ’n Warmlugballon is selfs meer pret as ’n boot, ’n vliegtuig of ’n motorfiets.

Die enigste twee wat nie heeltemal oortuig lyk nie, is Amy en Jamie. Hulle kyk agterdogtig vir mekaar.
Alex sien dit en sy gesig begin gloei. Miskien weet hulle dat hy pas drie ASEMROWENDE GROOT leuens vertel het.
“So, was dit nou nie interessant nie?” vra juffrou Williams en klink heel ingenome.
Amy en Jamie steek gelyk hulle hande in die lug op.
Alex sluk benoud.
Juffrou Williams se wenkbrou lig. “Hoekom lyk dit vir my of julle twee iets wil vra?”
Amy ignoreer die juffrou. “Alex,” sê sy, “ek dog dan jy het die vakansie ...”
Sssss. Grrrrrk. Pffft.
Die gesuis van die interkom bo die klaskamer se deur knip haar kort.
“Personeel en leerders, aandag asseblief,” druis ’n stem.
Dit is die skoolhoof, mevrou Molefe. Haar stem klink vreemd, asof sy nie heeltemal seker is wat sy wil sê nie.
“E ... ons het ’n dringende berig ontvang dat ’n gevaarlike ... e ... siekte in die stad uitgebreek het.”
’n Oomblik lank is dit tjoepstil. Dan begin almal gelyk praat.
“Sal julle asseblief stilbly!” raas juffrou Williams.
Die skoolhoof se stem druis voort.

Almal begin gelyk praat.
“’n Gevaarlike siekte?” vra Mandla grootoog. “Wat kan dit wees?”
“Dalk is dit kopluise!” sê Emma. “Daar was kopluise by my niggie se skool. Almal het dit gekry. Hulle moes die skool vir ’n week sluit.”
“Oeeee, ek hoop dis kopluise!” roep Amy uit. “Kopluise is SO cool!”
“Moenie laf wees nie, man!” sê Jamie. “Kopluise is nie ’n gevaarlike siekte nie. Dit moet iets anders wees.”
“Is dit nou regtig nodig om so te lawaai?” raas

  • Univers Univers
  • Ebooks Ebooks
  • Livres audio Livres audio
  • Presse Presse
  • Podcasts Podcasts
  • BD BD
  • Documents Documents